Die Afrikaanse Christen Kerk in Nieu Zealand is gestig op 1 November 1998 nadat Afrikaans-sprekende lidmate van verskeie kerke in Auckland besluit het om ‘n onafhanklike, nuwe Kerk te begin. Daar is reeds 13 gemeentes regoor die land, onder andere drie gemeentes in Auckland, Hamilton, Rotorua, Wellington, Christchurch en natuurlik Hawkes Bay. Daar is ook tans ‘n aantal bedieningspunte wat gedurigdeur groei soos die Here Sy kinders opwek om Sy koninkryk uit te brei.
Die lidmaattal in die kerk beloop reeds meer as 1300 belydende lidmate.
Die Hawke’s Bay Gemeente het ontstaan onder leiding van ds Derik Kotze wat in April 2008 met maandelikse eredienste begin het. Gelei deur die Here het hy die behoefte na weeklikse dienste kort daarna ervaar. Dit het daartoe gelei dat op 19 Oktober 2008 Hawke’s Bay as 8ste gemeente van die ACK gestig is.
Hierdie gemeente word tot op hede bedien deur Derik en Chantal Kotze. Die ACK Hawke’s Bay gemeente is die gemeente met warm harte wat Suid-Afrikaners in die Hawkes Bay distrik ondersteun en bedien.